Wenke om Afrikaans EAT leerders te help

Hoe help ek Afrikaans Eerste Addisionele Taal leerders wie se woordeskat beperk is en wat nooit Afrikaans in hulle huise hoor of praat nie?

Hier is ‘n paar wenke:

  1. Basiese woordeskat: Gebruik elke dag net 5 minute. Kies elke week ‘n ander tema en doen elke dag 10 nuwe woorde of frases oor die tema vir 3 dae. Hou ‘n vasvra, maak dit prettig. Op dag 4 skryf hulle sinne oor die woorde. Op dag 5 word die woorde en frases in ‘n paragraaf gebruik. (Cloze toets of eie skryfstuk).
  2. Stel leerders bloot aan die Afrikaans-is-pret idee. Speel Afrikaanse liedjies van bv. Refentse, Jak de Priester, Karin Zoid en laat hulle saamsing. Begin elke dag met ‘n grappie of ‘n raaisel. (Jaco Jacobs se 1001 grappe is ‘n treffer!)
  3. Skryf elke week ‘n idioom of slagspreuk op die bord. Gebruik die idioom ‘n paar keer die week in sinne.
  4. Woordorde: Oefen woordorde, veral verlede tyd en toekomende tyd sinne asook saamgestelde sinne met dat.
  5. Leer hulle om elke dag ‘n aktiwiteit tuis te doen om in Afrikaans te leer dink: a) Benoem voorwerpe in en om die huis in Afrikaans en dink aan hulle in hulle Afrikaanse name, b) Sê hardop wat jy doen as jy alleen is in jou kamer, c) Dink in Afrikaans oor die dag se dinge, d) Dit neem energie en tyd in ‘n mens se brein om die heeltyd woord-vir-woord vertalings te doen.
  6. Leer hulle om eers klaar na ‘n spreker te luister (of ‘n paragraaf te lees) voordat hulle dit probeer verstaan.
  7. Woord-vir-woord vertalings verwar die brein, maak jou deurmekaar en sinne word verkeerd geformuleer. Moedig leerders aan om aan die woorde in Afrikaans te dink wanneer hulle praat.
  8. Praat Afrikaans. Oefen elke dag gesprekke met leerders in Afrikaans.
  9. Moedig leerders aan om Afrikaanse TV-programme of flieks te kyk. “Nul is nie niks nie” is ‘n uitstekende tienerfliek wat ook in die klas gebruik kan word vir filmstudie met bv. ‘n resensie wat hulle daaroor moet skryf.

Deel asseblief julle wenke – so leer ons by mekaar!

Leave a Comment